[ Back to previous page ]

Veld-en bosbrande: wie dok op? Date : 18 June 2014

Apr 20 2012 09:11Andreas van Wyk Sake Beeld.  andreas van wyk

Veldbrande is ’n bekende bedreiging in Suid-Afrika met sy groot oop ruimtes en droë warm klimaat. Daarom het ons al sedert 1941 omvattende wetgewing om hierdie gevaar te hanteer.

Die huidige wet is die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998). Opgestel in ’n ietwat vreemde styl maak dit, soos sy voorgangers, veral voorsiening vir die totstandkoming van brandbeskermingsverenigings in gebiede waar daar ’n gevaar van veldbrande is.

Grondeienaars wat lede van so ’n vereniging is, werk dan saam om veldbrande te voorkom, te bestuur en te blus ingevolge bindende reëls wat die vereniging opgestel het.

Verder verplig die wet alle grondeienaars (ook in gebiede waar daar nie ’n brandbeskermingsvereniging bestaan nie) om vir brandbestryding toegerus te wees en om aangrensende eienaars kennis te gee van enige brand op hul grond wat lewe, eiendom of die omgewing in gevaar kan stel.

Verder moet die eienaar alles in sy vermoë doen om te verhoed dat die brand versprei. As deel van so ’n voorkomingsaksie het hy drastiese magte: Hy kan enige grond of perseel betree, enige persoon verhinder om ’n perseel te betree, persone wat hom hinder met geweld verwyder, en enige voertuig of ander objek verwyder.

Die mees onlangse aflewering van die Suid-Afrikaanse Hofverslae rapporteer ’n interessante uitspraak oor die vraag wie ’n "eienaar" vir die doeleindes van hierdie wet is en dus die pligte en verantwoordelikhede ingevolge daarvan het.

Mnr. Paul Oscar Martens boer reeds sedert die 1960’s in die mooie Underberg-omgewing tussen Pietermaritzburg en die Drakensberg. In 1989 het sy seun, André Martens, hom uit Gauteng by sy pa aangesluit. Kort daarna het hulle die boerdery uitgebrei deur die aangrensende plase, gesamentlik bekend as Neteni, aan te koop. Een van hierdie plase is geregistreer in die naam van pa Paul en die ander twee in die naam van seun André. Teen 1991 het die Martense besef dat die saamboerdery nie werk nie en André het teruggetrek Gauteng toe.Die afspraak tussen hulle was dat pa Paul alleenbeheer sou neem van die hele Neteni-boerdery, ook van die gedeelte wat in die seun se naam geregistreer is.

In 1993 hulle ’n ooreenkoms gesluit wat hierdie reëling bevestig en pa magtig om alle besluite rakende al die plase te neem.

Ingevolge die volmag wat die ooreenkoms aan hom gegee het, het Paul uiteindelik in 2005 heen gegaan en Neteni verkoop.

Seun André was onbewus van die verkoop en het geen voordeel daaruit getrek nie, al was ’n gedeelte daarvan nog in sy naam geregistreer. Die bure is nie van die ooreenkoms in kennis gestel nie.

Ongelukkig vir seun André het daar op 17 Julie 2003 ’n brand uitgebreek op die dele van Neteni waarvan hy nog die geregistreerde eienaar was, al het hy in die praktyk niks meer met die grond te doen gehad nie.

Dié brand het skade aan die aangrensende Gilboa-plantasie van Mondi, die groot papiervervaardiger, aangerig. Mondi het dus vir André op 6 Januarie 2006 vir skadevergoeding ten bedrae van R1,2 miljoen gedagvaar.

Die dagvaarding is op pa se plaas afgegee en pa het dit aan sy versekeraar oorhandig. André, woonagtig in Pretoria, het eers in November 2006 deur pa se prokureurs van die eis teen hom gehoor.

Die regsvraag voor regter Swain van die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg was of seun André vir die doeleindes van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande op die tydstip van die veldbrand die eienaar van die betrokke dele van Neteni was.

Indien hy dit wel was, het hy versuim om sy pligte ingevolge die wet na te kom en word daar vermoed dat hy ingevolge art. 34 van die wet nalatig met betrekking tot die veldbrand was.

"Eienaar" word vir die doeleindes van hierdie wet omskryf as "dieselfde as in die gemene reg en ook (a) ’n huurder of ander persoon wat die onderhawige grond beheer ingevolge ’n kontrak, testamentêre dokument, wet of bevel van ’n hoë hof".

Drie verdere situasies rakende gemeenskaps- en staatsgrond en grond van ’n plaaslike bestuur word ook omskryf.

Mondi voer aan dat die persoon wat volgens die Akteswet van 1937 as die eienaar van die twee gedeeltes van Neteni geregistreer is, ook vir die doeleindes van die Wet op Veld- en Bosbrande die eienaar is. Regter Swain het na ons Romeins-Hollandse regsbronne vir omskrywings van die begrip eienaarskap, veral die gesaghebbende 19de-eeuse Duitse Pandektiste, gekyk.

Vir hulle is onbeperkte en uitsluitende beheer van iets en die bevoegdheid om dit te vervreem die wese van eiendomsreg.

André Martens het deur die ooreenkoms met sy pa afstand gedoen van sulke beheer en ook sy pa gemagtig om die plase te vervreem. Registrasie as eienaar in die akteskantoor is volgens regter Swain nie deel van die gemeenregtelike eiendomsbegrip nie.

Wat die begrip "eienaar" in ’n spesifieke wet beteken, word bepaal deur die konteks van daardie wet. Die definisie in die Wet op Veld- en Bosbrande verwys uitdruklik ook na huurders en ander beheerders van grond, wat ’n sterk aanduiding is dat beheer vir hierdie doeleindes die beslissende faktor is.

Art. 34 se nalatigheidsvermoede, wat reeds in die 1941-wet voorgekom het en verskeie kere deur die howe uitgelê is, versterk hierdie benadering deur die vermoede afhanklik te maak van beheer oor die grond waar die brand ontstaan het.

Die hof bevind dus dat seun André nie as eienaar van Neteni vir die skade op Mondi se grond hoef in te staan nie.

Die uitspraak lyk korrek en in die gegewe geval ook billik, maar dit skep probleme vir aangrensende eienaars wat dalk nie van onderlinge beheerooreenkomste bewus is nie.

In ’n noodsituasie gaan ’n buurman kwalik weet wie hy in so ’n geval verantwoordelik moet hou. Moet die Wet op Veld- en Bosbrande nie ’n eienaar verplig om sy bure van sulke ooreenkomste in kennis te stel nie? - Prof. Andreas Van Wyk, ’n regsgeleerde, is ’n oudrektor van die Universiteit van Stellenbosch.

[ Back to previous page ]